:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::


Woensdag 11 Mei 2022


Ek kyk na die sonsopkoms deur my ateljee venster. Die bome is amper kaal, maar daar is nog steeds 'n bietjie kleur buite my deur. 'n Goue oggend wat 'n blou hemel belowe en Somer se laaste hoera.

Dit voel als so eenvoudig.

So stil.

So lieflik.

En dit is.

Sondag 01 Mei 2022

Wees waar jy WIL wees!

Onbyt by Salt Café in Salt Rock, Ballito - voel of ek op 'n Griekse eiland is!

Vier jaar terug het ons Gauteng verlaat - ALLES verkoop wat ons kon, alles weg gegee aan die wat wou hê,  alles weggegooi wat oorgebly het, vaarwel gesê aan my tuin, my geliefde hoenders, my tuin voëltjies, die Bloekombome en die graslande van die Transvaal - en nou sit ons hier in Natal. 'n Bekende (het baie hierheen gekom) tóg vreemde plek - die see is mos vir 'n Gautenger net plek om te gaan vakansie hou. Almal droom van 'n huisie by die see, en nou het dit realiteit geword!


Lui-lekker ontbyt of middagetes by een van die vele restaurants met 'n pragtige uitsig oor die see,


 ... ligte aand-etes van volgraan brood met 'n groen slaaitjie oor dit so warm is


en dae gevul met wonderlike sonskyn en ook reën, salige reën omtrent elke dag.

Ek sal nie jok nie - dis nie maklik om sommer net so, na 43 jaar in een plek, jou wortels op te ruk en te trek nie - ek mis my hoendertjies, ek mis my tuin en tuin voëls, ek mis bloekombome en ek mis GRAS! Aaah, daardie uitgestrekte savanna grasvlaktes van Gauteng! - maar hier by die kus is daar nou weer nuwe uitdagings. Ek ken min van die voëls, of slange, of plante groei, so nou is daar 'n kans om weer iets nuuts te leer, nuwe avonture te onderneem, nuwe dinge om te ondersoek.

Dit kos net om nou na die lewe met nuwe oë te kyk, nuwe herinneringe te maak en nuwe vriendskappe te kweek. Ou vriendskappe is mos vir ewig, hulle sal nie weggaan nie, maar nuwe vriendskappe sal verseker dat mens alewig met nuwe oë na die lewe sal kyk.

Ek hoop jy is ook waar jy WIL wees! So geniet jou dag waar ookal jy mag wees! ♡♡♡ Maree


Sondag 20 Januarie 2019

Die vreugdes van 'n tuin

Noudat die eerste groen blaartjies van 'n nuwe seisoen weer oral aan die bome verskyn, die wit en pienk bloeisels van my enigste twee vrugtebome my elke oggend glimlaggend groet as ek die agterdeur oopmaak, nou kan my siel weer lewe!

Gister het ek gaan saad koop. 'n Tyd terug het ek die saadkopery gestop, die duiwe vreet alles binne sekondes op en my beursie raak al platter. Maar so met die koms van die lente en vrolike kleur wat oral in die tuin verskyn, raak my verlange na die voëls al groter.

Ek het mos 'n paar skilderye anderdag verkoop! Ek mag myself mos maar bietjie bederf. Ek koop die oulikste voëltjievoerder, van staal gemaak nogal. Dit het 'n selfvoerder binne en die opening aan die kant is net groot genoeg vir my geliefde geveerdes om rats in te kan glip en hul kroppies vol te vreet.

 Mossie was eerste nuuskierig!

 En toe bontrugwewer!

 Honger is nie 'n man se maat nie!

 Akrobaat by uitstek! Aanhouer wen!
 Mossie sit alles en betrag, sy maak 'n mooi prentjie tussen die perskebloeisels!
 Toemaar, daar val saad op die grond ou Duifie....wag net!
 Die dae van porseleinkoppies vol saad is getel, dit was mooi, maar het nie so goed gewerk nie!
 Lemoen vir nagereg!

 'n Baie welkom besoeker vir 'n paar oomblikke: hoep-hoep bo in die boom. Maak my hart so bly!

 Nog 'n nie-so-baie-bekende geveerde vriendjie! Dikbekwewer. Pragtig vir my!
My bonus vir die dag: suikerbekkie kom suig sy nektar uit die aalwynblomme. Om van dié knapie 'n foto geneem te kry, vra baie geduld. Maar dis altyd die moeite werd!

Geskryf deur Elizabeth Kendall 

 

Woensdag 16 Januarie 2019

In die Hoëveld


Die heerlikste plek in ons land om te bly – Gauteng. Of, in die ou taal, die Hoëveld. Ons het die mees matigste (en normale!) klimaat in die hele land, nie te koud in die winter nie en ook nie te warm in die somer nie (met uitsondering van die warm temperature wat ons ‘n paar weke gelede beleef het!)

Ons word amper nooit geteister deur ontstuimige winde soos in die Kaap nie, ons kry min verwoestende oorstromings of verspoelings soos in Mpumulanga, dit sneeu amper nooit soos in Lesotho of die Noord-Kaap nie en, die beste van alles, ons kry reën in die somer! Ek kan my niks erger voorstel as ‘n nat, koue winter nie! 

:: 

In die Hoëveld waar dit oop is en die hemel wyd daar bo
waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
waar ’n mens nog vry kan asemhaal,
staan my huisie wat ek moes verlaat, vir geld!

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom
sawens as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoëveld waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien —
die ylblou bring ’n knop dan in jou keel —
staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
waar die bokkies op die leigrafstene speel.

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
en soek weer in die maanlig al die mooiste plekkies ui
waar ek klei-osse gemaak het as ’n kind.
— Woorde: Toon van den Heever

Saterdag 14 Oktober 2017

Waar het dit begin?

Ek kan nie onthou wanneer en waar dit begin het nie. My liefde vir voëls kyk. Die genot wat ek daaruit put om tot stilstand te kom en ons geveerde vriende dop te hou, te bewonder, te waardeer en so baie van te leer. Nietemin, dit het 'n tyd terug al begin, miskien eers nà my aftrede. Toe ek nog skoolgehou en kinders grootgemaak het, was ek skaars bewus van wie almal hier om my rondvlieg. Nou het ek tyd. 'n Wondergawe. Iets om elke dag dankbaar voor te wees. 'n Rooikopvinkie kom sit op die appelkoosboomtak. Hy blom tussen die nuwe botsels. My hart juig.


Rooikopvinke is baie klein, hulle bekkies is swaar / dik en hulle maak die mooiste "saaggeluide" as hulle hier in ons tuin bokant ons koppe sit en gesels. Klink kompleet asof hulle skinder. Die mannetjies se koppe is helderrooi, hul wyfies meer bruin. Hulle is baie lief vir die saad-tuinmengsel wat ek gereeld op die voerplankie of in die porseleinkoppies vir hulle uitstrooi.



Vrydag 28 April 2017

Begin 'n Dankbaarheids-joernaal


Joernaal-aantekeninge is maar net die daaglikse skrywe van jou gedagtes en idees op papier. Dit kan ‘n grootse ondervinding wees. Hierdie proses kan jou ondersteun in die soektog na byvoorbeeld waaroor jy angstig voel, of waarvoor jy ‘n passie het en waaroor jy droom

Koop vir jouself ‘n pragtige notaboek en gebruik ‘n pen waarvan jy hou om mee te skryf. Ek gebruik ‘n ”Moleskine” notaboek (wat by enige goeie boekwinkel beskikbaar is in verskeie formate). Vind 20 stil minute of so in jou dag en ek stel voor jy maak dit ‘n roetine – ek doen myne net voor bedtyd of vroeg in die oggend – maar enige tyd wat jou sal pas is gaaf.

‘n Paar van my gunsteling vulpenne :

Parker Sonnet Deep Black Laquer Gold Trim Medium Nib
.
Parker Sonnet Stainless Steel GoldTrim Medium Point
.
Waterman Himisphere Starlight
.
   Antiek Waterman-pen met grys en goud Laquer body, dik nib
.
Skryf asof jy met jouself praat – skryf oor al jou gevoelens, wat jou pla of waaroor jy opgewonde voel, die dag wat voorlê of belangrike gebeure van die verlede en wat jy graag wil onthou. Ek sit alles in soos datums, plekke, die tyd, ens. Dit hoef nie meesterstukke te wees nie – hierdie is JOU joernaal en vir jou oë alleenlik. Ek plak ook sommer goeters of teken prentjies.

Ondersoek het duidelik bewys dat, om ‘n Joernaal te gebruik, stres verminder en die immuunstelsel versterk, sowel as die volgende voordele:

– dit laat jou beter voel oor die lewe
– dit maak jou meer optimisties oor die toekoms
– dit spoor jou aan om andere te help met hulle probleme
– dit verbeter jou gesondheid
– dit  gee rigting en helderheid
 
 
Daar is baie dinge waaroor jy ‘n joernaal kan hou – my gunsteling is my DANKBAARHEIDS-JOERNAAL. Elke oggend, sodra ek gebad, aangetrek en tande geborsel het, skryf ek my ‘gratitudes’ neer. Aan die begin gaan dit maar stadig, maar net deur met een klein dingetjie, soos “ek is dankbaar vir die sonskyn” te begin, begin jou lys van dankbaarhede te groei en binnekort het jy sommer 10 op een slag.

In dieselfde boekie, aan die agterkant, doen ek my AFFIRMASIES vir die dag, soos byvoorbeeld “Ek is gesond en gelukkig. Daar is geen siekte wat ek nie kan oorwin nie” of “Ek spreek van vreugde vir die lewe! Ek laat myself toe om elke oomblik van elke dag totaal te geniet!” My gunsteling een is “Dankie vir die dag wat voorlê…”

My Daaglikse Joernaal vir alles en nog wat – hierin doen ek ook sketse saam met my inskrywings….
.
Hier is ‘n paar idees vir ‘n Joernaal – ek is seker jy kan nog met vele meer vorendag kom :

– Tuin-joernaal
– ‘n Natuur-joernaal
– Gebeds-joernaal
– Belangrike gebeurtenisse- en datums-joernaal
– Droom-joernaal (al die dinge wat jy nog die graagste wil vermag)
– Dinge-om-te-doen-joernaal
– Welbekende aanhalings- en inspirasie-joernaal
– ‘n Joernaal met jou eie gesegdes, inspirasies en sketse (wie weet, eendag kan jy dit dalk verwerk in ‘n eBoek!)
– ‘n Joernaal oor jou kinders – kort liefdesbriefies aan hulle
– Joernaal oor jou alledaagse gedagtes – dinge wat jou pla, oorwinnings

Ek het ‘n paar joernale op my rekenaar ook, maar daar is niks soos om met die hand te skryf nie!

‘n Paar van my Moleskine notaboekies :

 .
Daar is so baie dinge in hierdie lewe om voor dankbaar te wees dat ‘n mens honderde joernale kan volmaak en nog steeds nie alles genoem het nie. Leef met ‘n dankbare hart –
leef met ʼn fokus op wat jy het eerder as dit wat jy nie het nie. Dan waardeer ʼn mens klein dingetjies in die lewe. Dan is jy ʼn tevrede mens wat oorloop van dankbaarheid. Daardie dankbaarheid in jou hart spoel oor na ander mense en verryk alles en almal om jou.
 

Sondag 07 Augustus 2016

Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie!


Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie! Het jy geweet jy kan met tee en koffie skilder? Tee (swart) gee 'n lieflike ligte agtergrond vir die skildery en koffie (swart en sterk! Ek gebruik Nescafé kitskoffie) gee die pragtigste ryk en glansende donkerbruin skakerings.

Gebruik 'n goeie gehalte waterverf papier (ek gebruik meesal Bockingford 300gsm, dis dik en frommel nie maklik wanneer dit nat word nie). Maak 'n koppie sterk, swart tee en laat afkoel. Gebruik 'n taamlike groot verfborsel en bedek die hele bladsy met die tee. Sodra dit droog is, kan jy begin met die koffie. Ek skets gewoonlik my prentjie eerste, die tee bedek nie die lyne nie.

Verf dan met jou koffie 'n stuk donkerder agtergrond (jy kan die tee-agtergrond bo links in die skildery sien uitsteek) en verf dan jou skets met die koffie waar jy gewoonlik al die kleure sou sit. Maak seker jou eerste hale is donker genoeg, die koffie hou nie daarvan om weer bo-op geverf te word as dit eers droog is nie.

Eksperimenteer 'n bietjie met die tee en koffie voor jy jou skildery aanpak. Verf koffie op koffie terwyl dit nat is, verf koffie op koffie wanner dit droog is, dan kan jy die verskillende effekte waarneem.
Geniet en wys vir ons wanneer jy klaar is!

 Koffie skets met 'n wit agtergrond op Bockingford 300gsm

::

Sondag 31 Januarie 2016

Kaalvoet in die reën


Na 'n heerlike reënbui gisteraand, is dit vandag 'n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950's toe ons as kinders na elke reënbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike "Surf" in daardie dae) - en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.

En eintlik het ons nie 'n ander keuse gehad nie - geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op "dorpstrate" wat ons in die sand gemaak het, vlieërs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar 'n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.

En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of 'n vlieër in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reënmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se sagte 10mm reën het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reën.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!
-

Donderdag 31 Desember 2015

Wat is 'n tuin sonder vygies?

 Vygie - Lampranthus roseus
..
Ons as plantliefhebber is maar al te geneig om die wonderskone en die interessante in die natuur elders te wil gaan soek. En so word die juweeltjies rondom jou voete skoon misgekyk. Vandat ek my eerste Vygie bekom het, het ek inligting begin soek en hoe meer ek begin nalees het oor vygies, hoe meer het ek onder die betowering van hierdie magic gekom.
.
.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

Alle kleure word in die vygie-familie verteenwoordig behalwe swart, grys en bruin. Só gewild is hulle oorsee dat 'n vygie-vereniging reeds in Engeland gestig is met lede oor die hele wêreld. Die vygie-familie (Mesembryanthemaceae) is die wêreld se grootste vetplantfamilie en is eg Suid-Afrikaans aangesien 98 persent van dié familie hier voorkom. Daar is min vygiesoorte wat nie tuinboukundige potensiaal het nie. Dié familie wissel van die dwerg- beeskloutjies (Lithops spp.) uit die Karoo en Boesmanland (gewild as potplante) tot die rooivyebos (Stoeberia arborea) van Namakwaland en die Richtersveld, tot 3,5m hoë struike. 
.
.
Die grootste konsentrasies vygies kom in die winterreënvalstreke voor. Hul vrugkapsules is van die ingewikkeldstes in die plantewêreld en maak onder meer gebruik van die krag van vallende reëndruppels om die saad te versprei.
.
Die hoof-blomtyd van tuinvygies is in die lente. Dié vygies wissel van die plantgroeiende, grondbindende soorte tot struike van 1 m hoog. Party is weer dwerg- en polvormig. Hulle verkies 'n oop sonnige omgewing en goedgedreineerde grond. Groter soorte wat aanbeveel word, is die Lampranthus amoenus, 'n struikie met helderpers blomme in die lente wat tot 1m hoog word. Die L. watermeyeri het ligpienk blomme en blom weer in die vroeë lente. Mediumgrootte vygies is die appelkooskleurige roosvygie (Lampranthus roseus) en die L. multiradiatus van verskeie skakerings. Die L. glaucus het weer goudkleurige blomme, en die L. aureus helder-oranje blomme. Albei is mediumslagtig. Laasgenoemde blom in September. Die douvygie (Drosanthemum speciosum) is ook van ons mooistes met blomme wat varieer van rooi tot geel.
.
Die begin van 'n nuwe vygie
 
Wanner jy vygies plant, onthou om die groter soorte in die agtergrond te plant en die kleineres in die voorgrond. Die struikagtige vygies kweek seker van die maklikste en steggies kan regstreeks in die grond gedruk word. 'n Steggie van 5 cm tot 15 cm is voldoende. Die meeste tuinvygie-soorte is vinnig groeiende, kortlewende pioniersoorte en daarom moet steggies so elke drie jaar uitgeknip en ingelê word. Die steggies bewortel gou en blom weer in die lente.
.
Vygies kan ook maklik van saad gekweek word. Saai gedurende die somer of herfs in goed gedreineerde grond, en bedek met 'n dun lagie sand. Hou goed nat en die saad behoort binne sowat drie weke te ontkiem. Voeg 'n swamdoder by.
.

Vygies is besonders ten opsigte van hulle saadverspreiding. Die saadjies is kenmerkend vir elke genus en spesie in die ewe kenmerkende saadkapsule gehuisves. Dit is die struktuur van hierdie kapsule en die manier waarop die saadjies daarin gehuisves is wat plantkundiges gebruik om die spesies van mekaar te onderskei.
.

Die meeste genera se saadverspreiding hou verband met die oop en toegaan van hierdie kapsule in vogtige omstandighede. Die kielstrukture van die kapsule is hoogs gevoelig vir vog, swel uit en lig die kleppies op. Só spoel reëndruppels in die meeste gevalle die fyn saadjies uit die saadkamers van die kapsule. Merkwaardigerwys gebeur dit alles nie net met een enkele reënslag nie, maar kan 'n paar keer opeenvolgend gebeur. So verseker die plante hul saadverspreiding in die gunstigste omstandighede.
.
'n Mooi idee om vygies te vertoon - foto vanaf Pinterest

::

Maandag 28 Desember 2015

Eet uit die tuin



Dis hoogsomer en die dae is vol sonskyn. Heerlike reën het die landskap met die pragtigste groen getooi en die veld rondom ons plot is in volle blom met allerhande veldblommetjies.


So gepraat van blommetjies - wat is jou gunsteling dis om voor te berei op 'n warm somersdag? Myne is 'n heerlike slaai met Kappertjie-blommetjies en vars-gekapte kruie-botter, sowel vir die eet as vir die mooi. Kappertjieblare het 'n ietwat peperige smaak en het tien maal soveel Vitamien-C as blaarslaai. Die blomme is eetbaar maar 'n bietjie smaakloos maar gee wonderlike dramatiese kleur aan die slaai.


Natuurlik is hoenders en 'n groentetuin 'n moet vir enige tuinliefhebber - daar is niks beter as varsgeplukte slaai en eiers vars uit die nes nie!



Nog 'n gunsteling is eierslaai. Ek kry tussen 5 en 8 eiers 'n dag van my hoenders, so ek het al allerhande dinge met eiers probeer! My gunsteling eierslaairesep het ek vanaf Sarie-tydskrif gekry :

4 hardgekookte eiers 
2 huisies vars knoffel, fyngedruk 
2 koppe botterblaarslaai (ek gebruik gewone blaarslaai)
100 ml olyfolie 
30 ml suurlemoensap 
100 g Parmesaan-kaas, gerasper 

Gooi sout en vars gemaalde swartpeper na eie smaak oor. Was die blaarslaai goed af. Droog die blare deeglik af met kombuispapier. Druk die eiers met ’n vurk fyn. Sit die blare in ’n groot slaaibak en strooi die Parmesaan-kaas oor. Voeg die eier by en meng deur. Klits die olie, suurlemoensap en knoffel saam. Gooi die slaaisous oor die blare net voor jy dit opskep (die blare sal pap word as dit staan). Onthou, die kaas bevat reeds heelwat sout; hou jou hand lig met die soutpot. Smaail! En Kappertjieblomme lyk net so mooi in hierdie slaai.


Twinings het 'n paar heerlike vrugte- en kruievermengings bekend gestel wat jou dors op 'n warm somersdag dag kan les. Hulle kombineer sappige vrugtegeure soos pomelo, lemoen, swartbessie en framboos met aromatiese kruie vir 'n strelende kaffeíenvrye tee wat enige tyd van die dag of nag gedrink kan word of dit heerlik stomend is of met ys op 'n somerdag. My gunsteling is Ginseng & Vanilla; ek kan Vanielje in ENIGE iets drink of eet!

Jy kan natuurlik ook jou eie tee voorberei met 'n paar plante uit jou tuin soos kruisement, Bee Balm (Monarda didyma) en Lemon Balm, ook van die kruisement familie en roosblare en sonneblomsaad.

 
Foto vanaf Wikipedia

Het jy geweet vanielje is van die orgidee-familie? Dit groei meesal in tropiese lande, en die grootste produsente sluit in Madagaskar, Indonesië, Sjina, Mexiko, die VSA (Florida) en verskeie state in Sentraal-en Suid-Amerika. Die kriteria vir die kwaliteit van vanielje is die lengte van die peule - hoe langer, hoe duurder. En Vanielje is die tweede duurste spesery na Saffraan.

Saffraan (waarvan ek NIKS hou nie), is 'n spesery van die blom van die Saffraankrokus, en is inheems aan Suidwes-Asië. Ek het g'n idee waarvoor dit gebruik word nie en is ook nie juis van plan om dit OOIT te gebruik nie!


.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...