:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::
Donderdag 26 Junie 2014
Bulbine frutescens – Balsemkopiva
Tuinmaak is een van die groot plesiere van die lewe vir my. Om in 'n stukkie grond rond te vroetel is hemels. En daar's niks beter as die reuk van nat grond na 'n lekker reënbui nie.
‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante, asook houer plante, maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.
Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle ook baie bye en skoenlappers na jou tuin.
Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer 'n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond. Dit is ook wonderlik vir koorsblare, aknee, brandwonde, skaafmerke, waterblase, gebarste lippe en gebarste vingerpunte.
Kom oorspronklik in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en dele van die Kaap voor. Die plant groei waar niks anders wil groei nie en is boonop droogte-, hitte-, lugbesoedeling- en rypbestand.
Ander name : geelkatstert, katstert, kankerbossie en, in die volksmond, ook as snotbossie, weens die slymerige jel tussen die blare.
.
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Oulik!! Dankie vir die deel, kan nie wag om weer tuin te maak nie!
AntwoordVee uitDieselfde hier Liz, my huis is vol plante wat ingekom het vir die winter, party het sommer vanself potte gelig en hulself in die sonnige waskamer gaan tuismaak! he he! Kannie wag vir die warmder weer nie!
Vee uit