:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::


Sondag 09 November 2014

Biltong resep


Biltong is ons eie, 'n eg-Suid-Afrikaanse peuselkos!

Biltong is baie gewild in Suid-Afrika en Namibië onder die Afrikaners, maar ook in lande waar Suid-Afrikaners hervestig het oor die afgelope jare soos Nederland, Engeland, Australië, Nieu-Seeland en in Duitsland.

Biltong word in dieselfde asem as boerewors, potjiekos, droëwors, melktert, koeksisters, afval, boerbeskuit en bobotie genoem as eg-tradisionele Afrikaanse geregte, en dit vorm 'n sosiale band tussen Afrikaners regoor die wêreld. Biltong is opgeneem as 'n verteenwoordigende Suid-Afrikaanse gereg in 'n internasionale resepteboek wat deur die Verenigde Nasies gepubliseer is.

Biltong-resep
25kg vleis van goeie gehalte  Bv. diklies of binneboud
200-400ml heel koljander
500g-1kg sout
12.5ml salpeter
25ml koeksoda
12.5ml peper
asyn
225ml suiker

Sny die vleis met die draad langs in lang stroke, so dik of dun soos jy dit verkies. Onthou hoe minder vet aan die vleis is, hoe langer kan dit gebêre word, omdat vet mettertyd galsterig word. Verhit 'n pannetjie oor matige hitte en rooster die koljander daarin, totdat dit 'n welriekende geur begin afgee. Maal en sif die geskroeide koljander. Meng die koljander, sout, suiker, salpeter, peper en koeksoda en vryf die mengsel met die hand oor elke stuk vleis.

Pak die vleis in lae in 'n houtbalie, erdehouer of plastiekhouer en strooi die orige soutmengsel tussen elke laag. Pak die dik gesnyde stukke onder en die dunner stukke bo-op. Sprinkel 'n bietjie asynbo-oor die vleis en laat dit oornag staan. Biltong met baie vet aan moet langer lê, want dit neem langer om sout te absorbeer. Meng 200ml asyn met elke 2.5 liter water en spoel elke stuk vleis vinnig daarin af voordat dit op 'n koel, droë plek gehang word. Hang die biltonge die eerste dag in die son op en daarna in die koelte, weg van mekaar af. Biltong kan ook binneshuis hang, maar dan moet daar 'n goeie trek wees. 'n Elektriese waaier kan help om die lugvloei te verbeter. Laat die biltonge hang totdat dit so droog is soos verkies.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...