:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::


Donderdag 31 Desember 2015

Wat is 'n tuin sonder vygies?

 Vygie - Lampranthus roseus
..
Ons as plantliefhebber is maar al te geneig om die wonderskone en die interessante in die natuur elders te wil gaan soek. En so word die juweeltjies rondom jou voete skoon misgekyk. Vandat ek my eerste Vygie bekom het, het ek inligting begin soek en hoe meer ek begin nalees het oor vygies, hoe meer het ek onder die betowering van hierdie magic gekom.
.
.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

Alle kleure word in die vygie-familie verteenwoordig behalwe swart, grys en bruin. Só gewild is hulle oorsee dat 'n vygie-vereniging reeds in Engeland gestig is met lede oor die hele wêreld. Die vygie-familie (Mesembryanthemaceae) is die wêreld se grootste vetplantfamilie en is eg Suid-Afrikaans aangesien 98 persent van dié familie hier voorkom. Daar is min vygiesoorte wat nie tuinboukundige potensiaal het nie. Dié familie wissel van die dwerg- beeskloutjies (Lithops spp.) uit die Karoo en Boesmanland (gewild as potplante) tot die rooivyebos (Stoeberia arborea) van Namakwaland en die Richtersveld, tot 3,5m hoë struike. 
.
.
Die grootste konsentrasies vygies kom in die winterreënvalstreke voor. Hul vrugkapsules is van die ingewikkeldstes in die plantewêreld en maak onder meer gebruik van die krag van vallende reëndruppels om die saad te versprei.
.
Die hoof-blomtyd van tuinvygies is in die lente. Dié vygies wissel van die plantgroeiende, grondbindende soorte tot struike van 1 m hoog. Party is weer dwerg- en polvormig. Hulle verkies 'n oop sonnige omgewing en goedgedreineerde grond. Groter soorte wat aanbeveel word, is die Lampranthus amoenus, 'n struikie met helderpers blomme in die lente wat tot 1m hoog word. Die L. watermeyeri het ligpienk blomme en blom weer in die vroeë lente. Mediumgrootte vygies is die appelkooskleurige roosvygie (Lampranthus roseus) en die L. multiradiatus van verskeie skakerings. Die L. glaucus het weer goudkleurige blomme, en die L. aureus helder-oranje blomme. Albei is mediumslagtig. Laasgenoemde blom in September. Die douvygie (Drosanthemum speciosum) is ook van ons mooistes met blomme wat varieer van rooi tot geel.
.
Die begin van 'n nuwe vygie
 
Wanner jy vygies plant, onthou om die groter soorte in die agtergrond te plant en die kleineres in die voorgrond. Die struikagtige vygies kweek seker van die maklikste en steggies kan regstreeks in die grond gedruk word. 'n Steggie van 5 cm tot 15 cm is voldoende. Die meeste tuinvygie-soorte is vinnig groeiende, kortlewende pioniersoorte en daarom moet steggies so elke drie jaar uitgeknip en ingelê word. Die steggies bewortel gou en blom weer in die lente.
.
Vygies kan ook maklik van saad gekweek word. Saai gedurende die somer of herfs in goed gedreineerde grond, en bedek met 'n dun lagie sand. Hou goed nat en die saad behoort binne sowat drie weke te ontkiem. Voeg 'n swamdoder by.
.

Vygies is besonders ten opsigte van hulle saadverspreiding. Die saadjies is kenmerkend vir elke genus en spesie in die ewe kenmerkende saadkapsule gehuisves. Dit is die struktuur van hierdie kapsule en die manier waarop die saadjies daarin gehuisves is wat plantkundiges gebruik om die spesies van mekaar te onderskei.
.

Die meeste genera se saadverspreiding hou verband met die oop en toegaan van hierdie kapsule in vogtige omstandighede. Die kielstrukture van die kapsule is hoogs gevoelig vir vog, swel uit en lig die kleppies op. Só spoel reëndruppels in die meeste gevalle die fyn saadjies uit die saadkamers van die kapsule. Merkwaardigerwys gebeur dit alles nie net met een enkele reënslag nie, maar kan 'n paar keer opeenvolgend gebeur. So verseker die plante hul saadverspreiding in die gunstigste omstandighede.
.
'n Mooi idee om vygies te vertoon - foto vanaf Pinterest

::

Maandag 28 Desember 2015

Eet uit die tuin



Dis hoogsomer en die dae is vol sonskyn. Heerlike reën het die landskap met die pragtigste groen getooi en die veld rondom ons plot is in volle blom met allerhande veldblommetjies.


So gepraat van blommetjies - wat is jou gunsteling dis om voor te berei op 'n warm somersdag? Myne is 'n heerlike slaai met Kappertjie-blommetjies en vars-gekapte kruie-botter, sowel vir die eet as vir die mooi. Kappertjieblare het 'n ietwat peperige smaak en het tien maal soveel Vitamien-C as blaarslaai. Die blomme is eetbaar maar 'n bietjie smaakloos maar gee wonderlike dramatiese kleur aan die slaai.


Natuurlik is hoenders en 'n groentetuin 'n moet vir enige tuinliefhebber - daar is niks beter as varsgeplukte slaai en eiers vars uit die nes nie!



Nog 'n gunsteling is eierslaai. Ek kry tussen 5 en 8 eiers 'n dag van my hoenders, so ek het al allerhande dinge met eiers probeer! My gunsteling eierslaairesep het ek vanaf Sarie-tydskrif gekry :

4 hardgekookte eiers 
2 huisies vars knoffel, fyngedruk 
2 koppe botterblaarslaai (ek gebruik gewone blaarslaai)
100 ml olyfolie 
30 ml suurlemoensap 
100 g Parmesaan-kaas, gerasper 

Gooi sout en vars gemaalde swartpeper na eie smaak oor. Was die blaarslaai goed af. Droog die blare deeglik af met kombuispapier. Druk die eiers met ’n vurk fyn. Sit die blare in ’n groot slaaibak en strooi die Parmesaan-kaas oor. Voeg die eier by en meng deur. Klits die olie, suurlemoensap en knoffel saam. Gooi die slaaisous oor die blare net voor jy dit opskep (die blare sal pap word as dit staan). Onthou, die kaas bevat reeds heelwat sout; hou jou hand lig met die soutpot. Smaail! En Kappertjieblomme lyk net so mooi in hierdie slaai.


Twinings het 'n paar heerlike vrugte- en kruievermengings bekend gestel wat jou dors op 'n warm somersdag dag kan les. Hulle kombineer sappige vrugtegeure soos pomelo, lemoen, swartbessie en framboos met aromatiese kruie vir 'n strelende kaffeíenvrye tee wat enige tyd van die dag of nag gedrink kan word of dit heerlik stomend is of met ys op 'n somerdag. My gunsteling is Ginseng & Vanilla; ek kan Vanielje in ENIGE iets drink of eet!

Jy kan natuurlik ook jou eie tee voorberei met 'n paar plante uit jou tuin soos kruisement, Bee Balm (Monarda didyma) en Lemon Balm, ook van die kruisement familie en roosblare en sonneblomsaad.

 
Foto vanaf Wikipedia

Het jy geweet vanielje is van die orgidee-familie? Dit groei meesal in tropiese lande, en die grootste produsente sluit in Madagaskar, Indonesië, Sjina, Mexiko, die VSA (Florida) en verskeie state in Sentraal-en Suid-Amerika. Die kriteria vir die kwaliteit van vanielje is die lengte van die peule - hoe langer, hoe duurder. En Vanielje is die tweede duurste spesery na Saffraan.

Saffraan (waarvan ek NIKS hou nie), is 'n spesery van die blom van die Saffraankrokus, en is inheems aan Suidwes-Asië. Ek het g'n idee waarvoor dit gebruik word nie en is ook nie juis van plan om dit OOIT te gebruik nie!


.

Donderdag 24 Desember 2015

Afrikanertjies en baie reën in herfs


As jy kleur vir jou tuin soek, tot diep in herfs, plant hierdie "plesierige" Afrikanertjies. Hulle beloon jou met oneindige  kleur en genot en hoe meer jy pluk, hoe meer blom hulle. Afrikanertjies is die langasems van die blomme-, kruie-, of groentetuin. Lank na die tuin leeg is van somerblomme, skyn Afrikanertjies se helder geel en oranje gesiggies nog oral.


Dit word gesê dat Afrikanertjies (ook bekend as Marigolds) goggas weghou van plante in jou groentetuin en ek strooi opgesnipperde blomme en blare gereeld in my hoenderhok om insekte weg te hou en wanneer mens daarop trap, gee dit die heerlikste geur af. Die blomme en blare maak 'n wonderlike potpourri wanneer jy dit uitdroog. Prop sakkies vol en hang in jou hangkas.

Maar het jy geweet Afrikanertjies is ook eetbaar? Die blomblare is heerlik in 'n kasserol, brode en omelette en is baie kleurvol en smaakvol in rys en sop. Die blomblare gee ook wonderlike kleur aan slaaie.




Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente. Jy kan ook al die saadknoppies afpluk en in 'n bottel hou om weer te saai net waar jy dit wil hê in die lente.








.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...