:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::


Sondag 20 Januarie 2019

Die vreugdes van 'n tuin

Noudat die eerste groen blaartjies van 'n nuwe seisoen weer oral aan die bome verskyn, die wit en pienk bloeisels van my enigste twee vrugtebome my elke oggend glimlaggend groet as ek die agterdeur oopmaak, nou kan my siel weer lewe!

Gister het ek gaan saad koop. 'n Tyd terug het ek die saadkopery gestop, die duiwe vreet alles binne sekondes op en my beursie raak al platter. Maar so met die koms van die lente en vrolike kleur wat oral in die tuin verskyn, raak my verlange na die voëls al groter.

Ek het mos 'n paar skilderye anderdag verkoop! Ek mag myself mos maar bietjie bederf. Ek koop die oulikste voëltjievoerder, van staal gemaak nogal. Dit het 'n selfvoerder binne en die opening aan die kant is net groot genoeg vir my geliefde geveerdes om rats in te kan glip en hul kroppies vol te vreet.

 Mossie was eerste nuuskierig!

 En toe bontrugwewer!

 Honger is nie 'n man se maat nie!

 Akrobaat by uitstek! Aanhouer wen!
 Mossie sit alles en betrag, sy maak 'n mooi prentjie tussen die perskebloeisels!
 Toemaar, daar val saad op die grond ou Duifie....wag net!
 Die dae van porseleinkoppies vol saad is getel, dit was mooi, maar het nie so goed gewerk nie!
 Lemoen vir nagereg!

 'n Baie welkom besoeker vir 'n paar oomblikke: hoep-hoep bo in die boom. Maak my hart so bly!

 Nog 'n nie-so-baie-bekende geveerde vriendjie! Dikbekwewer. Pragtig vir my!
My bonus vir die dag: suikerbekkie kom suig sy nektar uit die aalwynblomme. Om van dié knapie 'n foto geneem te kry, vra baie geduld. Maar dis altyd die moeite werd!

Geskryf deur Elizabeth Kendall 

 

Woensdag 16 Januarie 2019

In die Hoëveld


Die heerlikste plek in ons land om te bly – Gauteng. Of, in die ou taal, die Hoëveld. Ons het die mees matigste (en normale!) klimaat in die hele land, nie te koud in die winter nie en ook nie te warm in die somer nie (met uitsondering van die warm temperature wat ons ‘n paar weke gelede beleef het!)

Ons word amper nooit geteister deur ontstuimige winde soos in die Kaap nie, ons kry min verwoestende oorstromings of verspoelings soos in Mpumulanga, dit sneeu amper nooit soos in Lesotho of die Noord-Kaap nie en, die beste van alles, ons kry reën in die somer! Ek kan my niks erger voorstel as ‘n nat, koue winter nie! 

:: 

In die Hoëveld waar dit oop is en die hemel wyd daar bo
waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
waar ’n mens nog vry kan asemhaal,
staan my huisie wat ek moes verlaat, vir geld!

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom
sawens as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoëveld waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien —
die ylblou bring ’n knop dan in jou keel —
staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
waar die bokkies op die leigrafstene speel.

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
en soek weer in die maanlig al die mooiste plekkies ui
waar ek klei-osse gemaak het as ’n kind.
— Woorde: Toon van den Heever

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...