:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::
Saterdag 06 September 2014
Afrikaans - Ons pragtige taal!
Ons pragtige taal verewig in digvorm, 'n herhinnering van ons oorsprong, van vergane dae en skoolbanke waar ons nie juis geϊnteresseerd was in watter digters wat gesê het nie... en soos jy aanstap in die lewe, kom 'n hunkering na wie-weet-wat, 'n erkenning van die nodigheid om in jou eie taal gehoor te word of te kan lees.
'n Engelssprekende vriendin vra my nou die dag hoe ek dit regkry om my ''g's'' so grof en maklik uit te spreek - sy kan net nie haar tong om ''Vereeniging'' of ''gratis'' kry nie - iets waaroor ek nog nooit nagedink het nie en dan besef 'n mens hoe jy jou moedertaal as vanselfsprekend aanvaar. Dit is so ingewortel in jou menswees dat jy maar net aanneem dat enigiemand anders die woorde ook dieselfde sal kan uitspreek. En enige taal of uitspraak kan tog aangeleer word deur genoeg oefening en repetisie.
En hoe máklik is dit tog net nie om verstrengel te raak in ander tale en in te meng met jou eie nie - bewys hiervan is die alledaagse Afrikaans wat ons meer en meer hoor - dis 'OK' om nie te 'worry' nie en ek wil net gou 'n bietjie 'makeup' aansit voor ek uitgaan. Hoe meer 'n mens dit hoor, hoe gemakliker word jy daarmee. Ek weet, ek is self een van hulle, getroud met 'n ''pommie'' en spandeer driekwart van my lewe deur Engels te praat - soms wil die Afrikaanse gedagte net nie kop uitsteek nie! En dan is dit gou woordeboek gryp ...
Maar ek dink dat dit elke Afrikaner (of énige nasie vir die argument) se plig is om sy taal so ver as moontlik suiwer te hou. Sleng het seker maar sy plek, maar ek ken 'n paar Afrikaners wat Afrikaans so suiwer as wat kan kom praat, en as hulle dit kan doen, dan hoekom nie almal nie? En ons hoef ook dan nie stemmig of outyds te klink nie en as almal dieselfde taal sou praat, sou niemand stemmig of ouderwets klink nie!
Riaan Cruywagen het in Maart 2007 by die bekendstelling van Anton Prinsloo se publikasie ''Sleng'' gesê, "Sleng kon nie op 'n meer geleë tydstip die lig gesien het nie. Of Anton maar net weens sy oplettende geaardheid die leemte in die mark raakgesien het, weet ek nie. Dalk is die weg gebaan toe die Taalkommissie in die jongste uitgawe van die AWS in 2002 die eerste keer aan Omgangsafrikaans erkenning verleen het, deur in 'n afsonderlike lys sowat 500 woorde op te neem wat gebruik word in "die Afrikaans wat moedertaalsprekers in gemoedelike omgang met mekaar praat". Hoe dit ook al sy – vir mense wat erns maak met hulle Afrikaanse taalgebruik, gaan Sleng 'n onontbeerlike plek in die boekrak inneem.
Engels is sonder uitsondering die wenner wanneer Afrikaans (of, wat dit betref, enige ander taal) daarmee deurspek, ontsier en verarm word. Ek hoor baie selde dat Engelssprekendes – hetsy in gemoedelike omgang met mekaar óf in formele kommunikasie soos nuusuitsendings of koerantberigte – vreemde invloede in hulle taalgebruik duld. Indien daar by hulle sprake is van 'n soort taal-meerderwaardigheid, vra ek myself af waarom óns dan bereid is om 'n minderwaardige of ondergeskikte plek in te neem? Lê dit aan ons onderwysstelsel, word daar tuis nie meer aan ons kinders die beste voorbeeld gestel nie, of is die media daarvoor aanspreeklik? Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is ontsettend dankbaar dat Afrikaans van sy beklemmende borsrok bevry is.''
Ek het ook op hierdie aanhaling by www.oulitnet.co.za afgekom :
“An English-only, or even an English-mainly, policy necessarily condemns most people, and thus the country as a whole, to a permanent state of mediocrity, since people are unable to be spontaneous, creative and self-confident if they cannot use their first language”
- Dr Neville Alexander
— ‘Where English can Serve but not Empower.’
Nog iets ouliks en handigs wat jy by www.oulitnet.co.za kan aflaai (ja, dis reg, aflaai!) is die A - Z van Afrikaanse rekenaar- en internetterme - maak die lewe nou baie maklik en hoef 'n mens nie meer skuldig te voel as jy ontsper, enkodeer, versper, eksporteer of jou beller gebruik nie!
Nou ja, daar het jy dit - ''om te sleng of nie te sleng ...''
.
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Ons lief dit om van jou te hoor, gesels gerus met ons!