:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::


Saterdag 19 September 2015

Groen groei die akkerboom

Die akkerboom voor ons huis is jare der jare gelede deur my Ma geplant. Ek wens sy kon dit nou sien... (miskien kan sy!) Net soos die rose se heel eerste blomme in die nuwe somerseisoen die mooiste is, net so is die éérste groen blare van dié reuse boom. Ek het al verskeie verse oor my boom geskryf, ek het al honderde foto's van my boom geneem. Steeds bly dit nuut, splinternuut en so, so mooi. 'n Erfboom, 'n net buite-my-werfboom. 'n Baie spesiale boom. Drentel ek teen skemer deur die tuin en kyk ek op, kuier my oë oral tussen liggroen en donkergroen, ligbruin en donkerbruin dikker en dunner takke. Dis asof ek wegraak in die wonder daarvan. Kom kyk saam met my: 


 Erkenning

‘n Nuwe dag haal sag asem deur die oop venster
ver bo hang diamante aan ‘n donker doek
en ek hoor die eerste duiweroep
uit die akkerboom hier voor my huis
dis vroeg -
ons tuin, my man en honde slaap nog
maar my hart bokspring jubelbly
oor goeie, gawe nuus so onverwags gekry –

die lewe is so bittermooi vir my
Elizabeth Kendall ©

 Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het die mooiste groen rok aangetrek. Smiddae nà half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.  



Akkerboom.

jou takke strek tot wie-weet-waar

en duisend stories lê

in donker skadu’s opgegaar

sou die somer ooit weer kom
sien ek jou guitig in jou groen rok blom

ek hoor alreeds die duiwe sing:
koe-koer-doek 
oor die koelte wat jy bring

jy staan al donkiejare daar,
‘n vashouplek, ‘n steunpilaar,
Ma-se-akkerboom hier voor my huis
by jou is ek vir ewig tuis

Elizabeth Kendall ©


.

Vrydag 18 September 2015

Somergedagtes



Aan die einde van Augustus het my perskeboom geweet ... sy het geweet die somer is om die draai en vir weke al was sy besig om haar somerdrag reg te kry - klein groen blaartjies en die mooste pienk bloeisels, takke wat sterk in gesond na die hemel strek. 

Somer is ‘n uitgeswelde, ryp, oophand seisoen. So weldadig. Dae soos heuning, het Johannes Kerkorrel se streelstem gesing. Somer is 'n ruising van lower, somer is wind, somer is ruising van lower in die wind en die wind is mooi en groot en grasieus en die wind beweeg soos ‘n vrou. So dig Sheila Cussons. En is somer nie ‘n gedig nie! ‘n Betowerende spel van lig in lower, van smake en sensasies, van lang dae en loom nagte. Sensueel. Wild. Warm. En heeltemal onontbeerlik vir volledig menswees! 

ek skep stukke son in my halwe
hande en sprinkel strooi die blokkies
warm oor my lyf oor my bene my
arms draai bollings silwer strale
van die groot geel tol in die hemel
en ek weef vir my 'n somer
sykombers

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...