:: werk saam met die natuur en geniet 'n inspirerende en kreatiewe leefstyl ::


Woensdag 26 Augustus 2015

Kleur

Kleur maak 'n verskil. Nà 'n asvaal winter word kleur weer van vooraf waardeer. Warm-oranje aalwynblommetjies wat suikerbekkies lok. Donkerpienk, maroon petunias in die pot by die voorste hekkie, 'n welkomgroet aan elke besoeker. 


 Sagte pienk perskebloeisels wat 'n splinternuwe seisoen aankondig. Om te kan kyk en om te kan sien, dit is 'n seën!

Maandag 24 Augustus 2015

'n Vrolike vers


Rooikopvink

Pienkdun is sy voëltjiebene
fyn porselein onder omkrultone
en blommetjies,
blommetjies die hele wêreld vol
pik-pik hy versigtig aan die saad
om krag te kry,
genoeg krag vir vandag
want hy wil sy vlerke sprei
en vlieg

Elizabeth Kendall ©

.

Lag tog 'n bietjie!


Tussen al die gemorspos wat ‘n mens elke dag kry, is daar party kere een wat die moeite werd is.
Ek kry die ander dag een van vriend A.W. en, met apologie aan die oorspronklike skrywer, wil ek hopelik meer as een persoon vandag laat glimlag!

Hier is twintig maniere om ‘n hoë vlak van geestesgesondheid te handhaaf:

Sit oor jou etensuur met n donkerbril op in jou motor en mik met ‘n haardroër na die aankomende verkeer. Kyk of hulle stadiger ry.

Roep jouself oor die interkom sonder om jou stem te vermom.

Elke keer as jou baas jou vra om iets te doen, vra of hy skyfies daarmee saam wil hê.

Vervang die filterkoffie in die koffiepot vir drie weke met ‘decaf.’ Sodra jou kollegas oor hulle kaffeienverslawing is, hervul die pot met espresso.

Begin al jou sinne met in ooreenstemming met die professie.’

Moenie loop nie. Huppel.

Vra vir mense wat hulle geslag is. Lag histeries sodra hulle antwoord.

Sing kliphard saam by opera-uitvoerings.

Span n muskietnet om jou werksarea en speel die hele dag CD’s met tropiese woudgeluide.

Wanneer jy geld by die OTM trek en dit word uitgereik, skree, “Ek het gewen! Ek het gewen!”

Woon n poësie-aand by en vra na elke voordrag waarom die gedigte nie rym nie.

Laat weet jou gasheer vyf dae voor die partytjie dat jy nie meer kom nie, want jy is nie in die regte bui nie.

Sê tydens aandete vir jou kinders dat jy weens ekonomiese redes een van hulle moet laat gaan.”

Lekker dag vir jou!

.

Sondag 23 Augustus 2015

'n Nuwe seisoen

Die eerste perskebloeisels van hierdie lente. - 22 Aug. 2015.
 
"Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied." My psalms en lofliedere het gelukkig nog nie opgedroog nie, dit sal hopelik nooit. Elke seisoen het mos sy eie mooi. Lente is verruklik. Verruklik is baie mooier as "awesome"! Regtig. Ek weet. Elke nuwe dag het sy eie, warm en besondere kleure. “ Ek loop verkyk my daaraan!” sal die Kapenaars sê.  En dit gebeur dikwels  dat die kleur van elke dag 'n trooskombers is.  Ons kan onsself daarin toevou. Dankie tog dat ons kan sien, kan ruik, kan proe, sommer net kan wees. Dankie dat ons te midde van probleme en swaarkry nog kamera-in-die-hand kan rondloop en elke pasella wat direk uit die hemel kom, kan vaslê, kan deel.  Foto’s vertel mos stories. Foto’s laat mens onthou. Foto’s laat mens dink. Foto’s neem bly ‘n heerlike avontuur! Geniet dit, geniet jou dag!

Saterdag 22 Augustus 2015

Wat ek by my kleinkinders leer


·        Gebruik jou verbeelding !

·        Boomklim en kaalvoet loop is pure pret !

·        Maak jou eie wysies as jy wil sing !

·        Klere hoef nie bymekaar te pas nie !

·        Soentjies en drukkies maak alles beter!

Bruin skakerings kraak ondervoet...


akkerblare konfetti neer
bruin skakerings kraak ondervoet
hemelhoë takke
gryp vergeefs na somer
wat wegtuimel:
arms strek dan uit
na wye herfskoepel
en gee oor aan winterskoonheid
in gestrooptheid -
wag statig
op klein, varsgroen ogies
wat
van lente gaan sing
- Uysie Alberts ©

.

.

LinkWithin

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...